Bavaria brouery in die media

DOKTER AAN DOMINEE: “BROER, PROBEER DAN `N BIERTJIE”

 September 8, 2020 | James Kemp

Die Oraniër het onlangs verneem dat `n paar Oraniërs op `n ongewone wyse `n suksesvolle stryd teen nierstene gevoer het. Bavaria Brouery se Weissbier (ligte koringbier) is nou reeds `n paar op die proef gestel en het suksesvol daarin geslaag om van nierstene ontslae te raak. Dr Phillip Nothnagel vertel dat hy jare gelede ‘n internis geken het wat bier aan sy urolitiase (niersteen) pasiënte voorgeskryf het. “Drie vanaand, drie môre”, het hy elke keer gesê sonder enige ironie en met ‘n strak gesigsuitdrukking. Dr Nothnagel het met Bavaria Brouery se Sepp Eckmaier gesels oor watter spesifieke bier die beste is vir die nierstelsel en tot dusvér het die resep nog elke keer gewerk. Dit is ook belangrik om baie water tussen die bier ook te drink.

Een van die tevrede pasiënte is die AP Kerk se ds Ruan Combrink. “Dr Nothnagel het gesê ek moet die pilletjies drink wat hy voorskryf saam met drie biere die aand en drie die volgende oggend. Die aand het ek die pilletjies gedrink saam met baie water en die volgende oggend die ander drie,” vertel ds Ruan. Die probleem was egter dat hy die volgende oggend moes help vleis verwerk vir die Dankfees maar met `n paar peperminte kon hy daarin slaag om nie te veel wenkbroue te laat lig nie. Hy sê die nierstene is darem opgelos en hy is dankbaar vir die unieke voorsrkif en die sukses wat dit tot gevolg gehad het.

DIÉ BIER WAG (ON)GEDULDIG OP JOU

Augustus 11, 2020 | James Kemp

Die afgelope vyf jaar is Sepp en Rita Eckmaier bekend vir die hoë gehalte bier wat hulle brou. Bavaria Brouery het verder voor die grendeltyd hulle produkte ver buite die grense van Orania versprei en kon jy hulle bier in Parys (Vrystaat), Kleinfontein en Potchefstroom kry. Met die hernude verbod op die verkoop en vervoer van alkoholprodukte het Sepp besluit om `n projek aan te pak waarvoor hy lank reeds lus: om `n bier te vervaardig wat vir alle Oraniërs bekostigbaar sal wees. “Die grootste suksesse word in krisistye gekweek,” het hy homself herinner. Dit was egter nie maklik om `n bier met `n verkoopprys van 16 Ora te vervaardig en steeds trou aan die Reinheitsgebot te bly nie en die Eckmaiers moes behoorlik kopkrap. Maar hoekom nou, met `n hernude verbod op die verkoop van alkoholprodukte, besluit om `n nuwe bier te brou? Sepp antwoord kort en kragtig: “Ek het tyd gehad.”

ADAM TAS EN DIE MANNE VAN BYT EN BUSKRYT HET ONLANGS BY ONS ‘N DRAAI KOM MAAK