Ons verbintenis met bier, bavaria en orania
Ons liefde vir bier is geneties, dit is `n tradisie wat oor baie jare by ons ingekweek is. In Duitsland is bier soos voedsel en elke dorpie beskik oor sy eie brouery. Ons het destyds besluit dat ons `n beter bier wou brou as wat die massaproduserende brouerye gedoen het. Ons wou die bestanddele verstaan en nie verval in `n gerekenariseerde proses nie. Ons primêre doelwit was nog altyd om die beste bier in die wêreld te brou. Met tyd het ons bier baie gewild geword onder ons Duitse vriende en het hulle dit selfs bo die bier wat hulle in drankwinkels kon kry verkies. Ons het besef dat ons die proses vervolmaak het toe ons begin brouerskompetisies wen in Duitsland.
In 2010 was ons moeg vir die gewone vakansies na Europese bestemmings en eksotiese strande. Ons het besluit om van ons tuisdorp, Gangkofen in die Beierse provinsie in Duitsland na Suid-Afrika te reis en het die land met `n huurmotor deurkruis. Die strande en natuurskoon was pragtig maar ons besoek aan Orania het bo alles uitgestaan.
Ons was sedert kleintyd gefassineer deur verhale van die Anglo-Boereoorlog en die Mausers wat die Duiters aan die vegtende boeremagte voorsien het. `n Jaar later het ons besluit om Orania weer te besoek en stelselmatig het ons begin verlief raak op die gemeenskap.
Gedurende 2012 besoek `n groep Oraniërs die hoofstad van Suid-Tirool, Bozen. Ons besluit om vir ons vriende bier te neem en kort voor lank word daar gespot dat ons, ons brouery na Orania moet verskuif. Die gespottery sou twee jaar later ‘n werklikheid word en selfs die uitmergelende emigrasieproses sou ons nie van ons droom afsit om `n brouery in Orania te begin nie.

Ons Embleem
Die etiket op ons biere simboliseer ons Beierse wortels. Die leeu is `n koninklike simbool (elke koning in die wêreld kies sy eie diere-embleem en die Beierse koningshuis het op `n leeu besluit), die fleur-de-lis is teken dat ons aan Franse kant geveg het tydens die Napoliaanse oorloë, die kruis is `n simbool van ons Christelike geloof en die garsare en hops dui op die Duitse bierdrinktradisie.
Bavaria Brouery glo in tradisie, gehalte en `n ekologiese volhoubare proses (ons bottels word hergebruik). As jy vandag op jou volgende bier besluit neem die keuse teen kunsmatige produkte en vir `n gehalte produk gebrou met goeie bestanddele wat vanuit Duitsland ingevoer word.
Soos die Mausers destyds die beste geweer was om die Britte te laat les opsê is `n Bavaria bier vandag jou beste keuse om jou dors mee te les.
Wat is die "Duitse Reinheitsgebot"?
Al ons bier word volgens die ‘Duitse Reinheitsgebot’ van 1516 gebrou. In 1516 het mense allerhande snaakse bestanddele bymekaar gegooi om `n bier te maak. Die hertog het besef dat sy mense baie lief is vir bier en wou verseker dat hulle nie siek word of doodgaan nie en het besluit dat bier slegs uit drie bestanddele mag bestaan: water, mout en hops.
Ons brou ook nie craft bier nie. Craft bier het ontstaan as `n reaksie op die swak gehalte van die bier wat in Amerika beskikbaar was en het stelselmatig uitgebrei na ander lande waar dit ook die geval was. In lande met goeie bier, soos Nederland, België, Oostenryk en Duitsland, sal jy nie sommer sien dat craft bier gewild is nie. Ons bestanddele bly altyd dieselfde en word aangepas om verskillende tipes bier mee te brou – maar altyd volgens die Duitse Reinheitsgebot.


Waarom Orania?
`n Mens kan nie die beste bier in die wêreld op enige ander plek brou nie:
> Klimaat
In die Karoo is daar nie lugbesoedeling nie en op 1200 m bo seespieël is daar ook nie vogtigheid in die lug wat muf veroorsaak nie.
> Die Oranjeriver
Van Lesotho tot Orania het ons skoon water anders as wat in baie ander dele van die land die geval is.
> Ligging
Orania is sentraal geleë wat verspreiding vergemaklik. Verder is Oraniërs ook net so tradisievas soos wat ons is. En aan diegene in Gauteng en elders in die land wat wonder of dit prakties is om na Orania te verhuis en `n suksesvolle besigheid te bedryf? Ons het dit van Duitsland af reggekry.